So, diabetes is pas by jou gediagnoseer … Welkom by die klub! Ons is bly jy’s hier, al sou jy nie dié pad vir jouself gekies het nie. ’n Beter begrip van hoe dit werk, sal jou help om te verstaan wat die verskillende tipes diabetes behels – en hoe om dit aan mense te verduidelik. Hier gaan ons … Enige vrae? Stuur ’n e-pos of vra vir ons op Suid-Afrika se grootste diabetesgemeenskap: Diabetic South Africans.

Verstaan diabetes
Wil jy weet hoe diabetes jou liggaam aantas? Hier’s ’n eenvoudige verduideliking:
Dit begin alles met voedsel. Die koolhidrate (oftewel stysels) wat jy eet, word in jou liggaam afgebreek na glukose – ’n soort suiker. Glukose word in jou bloedstroom opgeneem en staan bekend as bloedsuiker. Jou pankreas stel insulien (’n hormoon) vry, wat help om glukose van jou bloedstroom na jou selle te vervoer, waar dit opgeneem word om energie te produseer. Insulien help die liggaam dus om bloedsuikervlakke te reguleer en die energie te benut wat dit uit koolhidrate verkry.
Die liggaam van iemand met diabetes produseer of te min of geen insulien nie – of dit kan nie insulien behoorlik gebruik nie. Dit beteken dat die glukose wat jy van voedsel verkry nie behoorlik van jou bloed na jou selle vervoer word nie. Gevolglik bou suiker in jou bloed op, wat veroorsaak dat jou bloedsuikervlakke styg. Verhoogde bloedsuikervlakke kan mettertyd organe soos jou niere, oë, senuwees en hart beskadig.
Die goeie nuus is dat diabetes met die regte behandeling bestuur kan word, en jy kan ’n lang, gesonde en aktiewe lewe lei. Daar’s niks wat jy nié weens jou diagnose kan doen nie – jy moet net ’n bietjie meer noulettend wees.
Onthou NEOS:
Neem jou medikasie volgens jou dokter se aanwysings.
Eet gesonde kos.
Oefen daagliks ’n bietjie.
Skud gewig af, indien nodig.

Tipes diabetes
Tipe 1-diabetes
Net tussen 5% en 10% van mense met diabetes het tipe 1. Tipe 1 is ’n outo-immuunsiekte wat behels dat die liggaam insulienproduserende selle in die pankreas vernietig. ’n Kombinasie van daaglikse insulienbehandeling en ’n noukeurige eetplan is nodig om dit te beheer.
Tipe 2-diabetes
Ongeveer 90% van gevalle is tipe 2 en behels gewoonlik ’n tekort aan insulien en insulienweerstandigheid. Dit kom meestal voor in mense wat oorgewig is en die eerste stap om tipe 2 te bestuur is leefstylveranderings – met oefening, ’n gesonde eetplan en gewigsverlies, indien nodig. Mondelikse tablette en insulieninspuitings kan nodig wees as die siekte vererger.
Swangerskap-diabetes
’n Vorm van diabetes wat die eerste keer tydens swangerskap gediagnoseer word. Dit is meestal tydelik en verdwyn ná swangerskap, maar vroue met swangerskap-diabetes en hul kinders het ’n groter kans om later in hul lewe tipe 2-diabetes te ontwikkel.

Word jaarliks getoets
Dis belangrik om vroeg gediagnoseer te word, want hoe langer jou liggaam aan hoë bloedsuikervlakke blootgestel word, hoe groter is die skade wat dit aanrig. Sommige mense met tipe 2-diabetes toon geen tekens van hoë bloedsuiker nie; dus is ’n maklike manier om seker te wees om jou vlakke by ’n apteek te laat toets. ’n Diabetes-toets behels ’n eenvoudige vingerprik-bloedtoets. Besoek jou naaste kliniek of apteek vir dié vinnige, pynlose toets. Vind hier uit wat die algemene simptome van diabetes is.
Die emosionele impak van diabetes
Dis baie belangrik om aandag te skenk aan jou emosies in jou hantering van die siekte. Dit maak ’n groot verskil om die regte dokter te kies (hier’s ’n lys van die beste Suid-Afrikaanse spesialiste, wat die lede van ons diabetesgemeenskap aanbeveel het). Dit help ook om by ’n gemeenskap aan te sluit: Ons hou baie van Diabetic South Africans op Facebook, maar daar’s ’n hele rits ander aanlyn gemeenskappe waaruit jy kan kies.
Diabetes en depressie is ook baie algemeen, en dit help om bewus te wees van daardie moontlikheid. Uitbranding is nog iets om in gedagte te hou – soms raak al daardie klein dingetjies wat elke dag jou aandag verg net te veel. Dis heeltemal normaal! ’n Diagnose is reeds ’n uitdaging … Onthou dat jy nie alleen is nie en dat ons almal hierdeur gegaan het. Dit voel dalk nou asof jy nooit alles gaan uitpluis nie, maar dit raak elke jaar makliker.
Lees meer
Translation by Riekie Human
Discover more from South Africans with Diabetes
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Be First to Comment