Skip to content

Wat is Tipe 1- en Tipe 2- diabetes?

Een van dinge waaroor ons die meeste op Diabetic South Africans gevra word, is die verskillende tipes diabetes. Daar is drie hooftipes: tipe 1-diabetes, tipe 2-diabetes en swangerskap-diabetes. Hier’s ’n bietjie basiese inligting oor die verskille tussen die tipes. Vra gerus ’n vraag in die kommentaar-gedeelte hier onder as jy enigiets anders wil weet!

type 1 and type 2 diabetes

 

Tipe 1-diabetes

Tipe 1-diabetes kom voor wanneer die pankreas ophou om die nodige hormone te vervaardig om bloedsuiker te absorbeer. Die diagnose is gewoonlik skielik en dramaties, en vind dikwels in die hospitaal plaas. As jy mooi na jouself kyk, is dit egter moontlik om ná ’n tipe 1-diagnose te floreer. Alle tipe 1-diabete moet insulieninspuitings met elke ete (en voor hulle gaan slaap) kry. Sommige tipe 1-diabete gebruik ’n pomp in plaas van inspuitings.

Tipe 1-diabetes kom meestal onder kinders of jongmense onder 30 voor, maar dit word by al hoe meer ouer mense gediagnoseer. Dit word nie veroorsaak deur die verkeerde eetgewoontes, te veel suiker, of omdat iemand oorgewig is nie. Tipe 1-diabetes is nie oorerflik nie (dit kom nie in families voor nie), maar dit is geneties (dis in jou gene). Onthou dat diabetes ’n siekte is wat jy self bestuur. Die goeie bestuur daarvan kom dikwels neer op die regte instelling en benadering tot ’n lewe met ’n chroniese kondisie. Hier is nuttige wenke ná ’n paar dekades as ’n tipe 1-diabeet.

Tipe 2-diabetes

Tipe 2-diabetes is meer algemeen (90% van diabete het tipe 2). Dit word dikwels deur dieet en leefstyl veroorsaak: te veel gemorskos, suiker en verfynde koolhidrate, asook te min oefening. Tipe 2-diabete se pankreas werk steeds, maar hul liggaam is weerstandig teen die hormone en kan dit nie doeltreffend verwerk nie.

Tipe 2-diabetes, ook bekend as suikersiekte (in Suid-Afrika), kom meestal onder volwassenes voor. Dit word egter ook by baie kinders gediagnoseer (gewoonlik as hulle oorgewig en onaktief is). Die risiko van mense wat oorgewig is, of ’n familiegeskiedenis van diabetes het, is groter – en hulle moet bes moontlik gewig verloor. Hier is goeie raad om tipe 2-diabetes te bestuur – waaronder wenke vir gewigsverlies, porsiebeheer en hoe om die regte kos te kies.

Medikasie behels gewoonlik tablette, met inspuitings later indien nodig. Soms kan die medikasie vir tipe 2-diabetes diarree veroorsaak (’n ongestelde maag), maar as jy dit saans neem, is dit gewoonlik minder problematies. Tipe 2-diabetes kan met ’n verandering in dieet en meer oefening omgekeer word as dit vroeg genoeg gediagnoseer word. Moet jy jou leefstyl verander om tipe 2-diabetes te bestuur? Ja. Maar dan kan jy ’n lang en gesonde lewe leef.

gestational diabetes

Swangerskap-diabetes

Swangerskap-diabetes is ’n toestand met hoë bloedsuikervlakke wat tydens swangerskap voorkom. Vroue met swangerskap-diabetes se risiko om later in hul lewe tipe 2-diabetes te ontwikkel is groter. Hoewel tablette soms nodig is, kan swangerskap-diabetes – net soos tipe 2-diabetes – dikwels met dieet en oefening beheer word. As swangerskap-diabetes nie gediagnoseer word nie, kan dit tot gesondheidskwessies vir die baba lei. Dis dus belangrik om tydens swangerskap daarvoor getoets te word. (Die toets word gewoonlik aan die begin van die derde trimester gedoen.)

Daar is ook ’n vierde soort diabetes genaamd latente outo-immuundiabetes (LADA) – of tipe 1.5-diabetes. Dis ’n kondisie waar tipe 1-diabetes in volwassenes gediagnoseer word wat meer dikwels kandidate vir tipe 2 sou wees. Dit het al die eienskappe van tipe 1-diabetes, behalwe dat dit aansienlik later gediagnoseer word.

Watter tipe diabetes het jy? Is dit duidelik vir jou uitgespel toe jy gediagnoseer is?

Translation by Riekie Human

Photo by Mark Claus on Unsplash

Published inAfrikaans

Join our diabetes community

Translate

Be First to Comment

    What do you think?