So, diabetes is pas by jou gediagnoseer en jy weet nie wat om te eet nie. Hoe lyk ’n gesonde dieet vir diabete? Ons weet hoe jy voel! Jy kan gerus na ons groot verskeidenheid resepte en gebalanseerde maaltydplan loer, maar dis ook nuttig om te weet hoe om koolhidrate te tel, watter kosse jy gereeld moet eet en wat porsiebeheer behels. Hierdie uitstekende artikel van Accu-Chek bevat al die inligting wat jy nodig het.
Koolhidrate en bloedsuiker
Koolhidrate is suikers. Hulle breek in die liggaam af om glukose, ’n primêre bron van energie, te vorm. Dis baie belangrik om die regte koolhidrate te kies en alle verfynde koolhidrate (wit brood, wit rys, pap, koek, koekies, ensovoorts) te vermy. Dit sal jou egter ook help om te leer hoe om koolhidrate te tel. Wanneer jy met elke maaltyd koolhidrate tel en hulle met die korrekte dosis insulien kombineer, kan jy jou bloedsuikervlakke nader aan die normale vlak hou. Kyk ’n bietjie na dié gesonde bord porsies.
Superkosse as deel van ’n gesonde diabetes-dieet
Die kossoorte hier onder is veral goed vir mense met diabetes omdat hulle ’n laer glisemiese indeks of koolhidraat-inhoud het en help om jou bloedsuikervlakke te reguleer. Lees meer oor hulle hier.
- Bone: propvol proteïen. Hulle is ook koolhidrate – so wees bedag op porsiebeheer.
- Donkergroen blaargroente: Eet soveel jy wil!
- Sitrusvrugte: Bevat baie vitamien C, maar hou matigheid voor oë.
- Patats: Veel gesonder as aartappels.
- Bessies: Gesond en laag in koolhidrate.
- Tamaties: ’n Goeie bron van vitamiene C en E, asook yster.
- Salm, of enige vis hoog in omega 3-vetsure.
- Volgrane: As jy brood eet, kies volgraanbrood.
- Rou neute: Vol gesonde vette en vesel.
- Suiwel: ’n Belangrike bron van vitamien D. Ongegeurde, onversoete jogurt is vol probiotika, wat baie goed is vir die spysverteringstelsel.
Nota: Hierdie is nie ’n aanbevole lys kos om te eet nie. Ons benadering tot ’n goeie eetplan vir diabete is om verfynde koolhidrate uit te sny en koolhidrate sover moontlik te verminder. Ons verstaan egter dat elkeen hul dieet verskillend benader, en wil almal bemagtig om hul eie besluite te neem. As jy verstaan hoe om koolhidrate te tel, kan jy beter koskeuses maak.
Porsiebeheer
Porsiegroottes is baie belangrik vir bloedsuikerbeheer. Selfs al is jy gewoond daaraan om koolhidrate te tel, is dit die moeite werd om porsies te weeg en te meet. Dan sal jy presies weet hoeveel koolhidrate jy eet, in plaas daarvan om te skat. Talle klein onnoukeurighede deur die loop van die dag kan jou totale aantal koolhidrate erg ontwrig. ’n Maaltydplan is nuttig omdat jy elke week dieselfde etes eet en hul effek op jou bloedsuiker kan toets.
Kry nóg gesonde diabetes-wenke van Accu-Chek hier.
Wat om verder te lees?
Vyf gesonde planne vir diabete
Translation by Riekie Human
Photo by Jagoda Kondratiuk on Unsplash
Discover more from South Africans with Diabetes
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Be First to Comment