Skip to content

Die statistieke vir prediabetes in Suid-Afrika

Almal behoort oor prediabetes te praat. As daar één ding is wat die coronavirus-pandemie ons geleer het, is dit dat ons drastiese veranderings kan aanbring wanneer ons moet. Suid-Afrikaners kan as ’n nasie verenig om ons gesondheid te beskerm. Maar terwyl COVID-19 in die kollig is as ’n onmiddellike, sigbare bedreiging, skuil die volgende epidemie stil-stil in die agtergrond – en dis verreikend. Ons volgende uitdaging is hier, en dis diabetes.

prediabetes stats in south africa

Die diabetes-epidemie in SA

Kyk na die persoon links van jou op jou volgende Zoom-oproep, en na die persoon regs. Een van julle drie het prediabetes. Dis nie so oënskynlik soos coronavirus nie, en die media maak nie soveel van ’n ophef daaroor nie, maar die risiko is ’n daaglikse realiteit – en hoogs voorkombaar. Volgens Statistieke SA eis diabetes die lewe van meer vroue in Suid-Afrika as enige ander siekte. Dit kan tot blindheid, amputasie en hartsiekte lei. Maar dis nie ’n dodelike siekte nie – nie as jy daarvan bewus is en ’n paar eenvoudige veranderings aanbring nie.

Die risiko vir diabetes in SA is 1 uit 3

Waar kry ons hierdie syfers? Van die gratis bloedglukosetoetse wat tydens nasionale Diabetesbewustheidsmaand (November 2019) gedoen is. Altesaam 35% van mense wat die toets gedoen het, het abnormaal hoë bloedsuikervlakke gehad, wat beteken hulle is prediabeties. ’n Bykomende 5% se toetse het gewys hulle is diabete.

Die Suid-Afrikaanse demografiese-en-gesondheidspeiling 2016 is onlangs uitgereik en dit toon dat dié syfers inderwaarheid te laag is. Die verslag toon aan dat ’n groot aantal vroue (64%) en mans (66%) prediabeties is (aangepaste HbA1c-vlak van 5.7%-6.4%). ’n Groot proporsie van volwassenes is dus óf onbewus van hul toestand, of onbewus daarvan dat hulle die risiko loop om diabetes te kry.

Diabetes en COVID-19

Die feit dat diabetes ’n risiko-faktor vir COVID-19 is, maak dit natuurlik dringend. Die sterftesyfer is hoër onder diegene met diabetes, vetsug en hipertensie. Aangesien minstens ’n derde van ons bevolking prediabeties is sonder dat hulle dit besef, is ons risiko groter vir ernstiger COVID-19-gevalle.

Wat is prediabetes?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beskou bloedglukosevlakke van laer as 5.5 mmol/l as normaal. Vlakke van 7 mmol/l en hoër word as diabeties beskou. Die prediabetiese speling lê tussen dié twee afsnypunte: 5.5 tot 7 mmol/l. Die goeie nuus? As jy prediabeties is, kan jy dieet- en leefstylveranderings aanbring en jou bloedsuikervlakke na normaal terugbring. Dit sal jou risiko om tipe 2-diabetes te kry drasties verklein. Maar jy kan dit net doen as jy van jou toestand bewus is!

Volgens die WGO kan 80% van gevalle van diabetes, 80% van hartsiekte en 40% van kanker voorkom word deur tabak te vermy, fisieke oefening te vermeerder en ’n gesonde dieet te volg. Dit word wêreldwyd erken dat die voorkoming van diabetes met behulp van leefstylveranderings krities en kostedoeltreffend is.

Dit is inderwaarheid ’n geskenk: ’n vooraf waarskuwing dat jou liggaam hulp nodig het om ’n chroniese toestand te vermy.

Besoek Sweet Life op www.sweetlife.org.za of Diabetic South Africans op Facebook vir meer inligting wat diabete kan help om ’n gesonde, gelukkige lewe te lei.

Meer oor die data:

Talle apteke, soos Clicks, Dis-Chem en AlphaPharm, het tydens Nasionale Diabetesbewustheidsmaand gratis bloedglukosetoetse aangebied. Ons het die resultate van dié toetse bekom via Allegra, wat ’n gesondheidsinligtingsbron geskep het. Dié nuttige bron sluit alle belanghebbendes in – soos mediese fondse, versekeringsmaatskappye, apteke, klinieke en pasiënte – en verbind almal met mekaar. 

Allegra het die Sweet Life-diabetesgemeenskap bemagtig via hul inligtingsbron sodat ons ’n duidelike prentjie kon kry van die werklike omvang van diabetes in Suid-Afrika. Dié prentjie wys hoe ons voorkomend te werk kan gaan om komplikasies en onnodige mediese kostes te verminder. Die data is deur Percept geanaliseer. 

Van die 16,477 stelle data (wat al die vereiste inligting bevat het), het 60% normale bloedsuikervlakke gehad, 5% diabetiese lesings gekry, en ’n verstommende 35% getoon hulle is prediabeties.

SHARE THIS ARTICLE
What to read next
Join South Africans with Diabetes on Facebook

Join our diabetes community

Be First to Comment

What do you think?

Sweet Life is a registered NPO/PBO (220-984) with a single goal: to improve diabetes in South Africa. We are funded by sponsorships and donations from aligned companies and organisations who believe in our work. We only share information that we believe benefits our community. While some of this information is linked to specific brands, it is not an official endorsement of that brand. We believe in empowering people with diabetes to make the best decisions they can, to live a healthy, happy life with diabetes.